Presisieboerdery: Data tot verbeterde besluitneming

Die gebruik van plaasdata as bestuursinstrument op ‘n moderne graanplaas.

Karen Truter, Andries le Roux, Marion Delport, Pieter Swanepoel in samewerking met John Deere

Presisieboerdery word dikwels beperk tot variërende toedienings van saad, kunsmis of chemiese insette. Alhoewel hierdie praktyke belangrike toepassings is, verteenwoordig dit slegs 'n klein gedeelte van 'n breër bestuursbenadering. In sy volledigste vorm behels presisieboerdery die versameling, integrasie en gebruik van data om besluitneming op plaasvlak te ondersteun en verbeter.

As ons dink aan ‘n eenvoudige, praktiese voorbeeld. ‘n Produsent met 1500 ha mielies het elke seisoen min of meer dieselfde inset-resep wat hy oor sy hele plaas toedien. Sy stroper het jaarliks opbrengsdata versamel, maar die inligting is nooit verwek nie. Toe hy uiteindelik besluit om sy historiese opbrengskaarte te ontleed, het dit voorgekom dat omtrent 200 ha – verspreide gedeeltes oor verskillende lande – konsekwent 30 tot 40 persent laer as die opbrengs gemiddeld presteer. Dieselfde saad, dieselfde kunsmis, dieselfde vlak van aandag. Oor vyf seisoene het hy op daardie grond insetkoste gedra wat die opbrengspotensiaal nie regverdig het nie. Die antwoord was heel moontlik in sy data – maar die regte vraag was nooit gevra nie.

Die data-ekosisteem op 'n moderne graanplaas

Op 'n moderne graanplaas word data reeds op verskeie stadiums van die produksie-siklus versamel, dikwels outomaties en sonder dat dit aktief bestuur word. Voor planttyd bied grondontledings en historiese opbrengskaarte die grondslag om bestuursones af te baken en kultivar te kies. Tydens plant hou GPS-tegnologie, seksiebeheer en variërende saad-toediening-tegnologie 'n ruimtelike rekord van elke besluit. Gedurende die groeiseisoen bied satellietbeelde en gewasmonitering vroeë aanduidings van stres in gewasse, terwyl slim spuit-tegnologie en masjien monitering operasionele doeltreffendheid meet. Met oes word hoë definisie opbrengs en kwaliteit inligting gegenereer wat die produksiesiklus se rekordhouding voltooi.

Die individuele datastelle het beperkte waarde in isolasie. Die waarde word geskep wanneer hierdie verskillende lae geïntegreer word — wanneer opbrengsdata neergelê word oor grondtipes, wanneer insetkoste per bestuursone bereken word, en wanneer historiese patrone as basis gebruik word vir toekomstige besluite. Dit is hierdie integrasie wat die verskil maak tussen data wat versamel word en data wat gebruik word.

Presisieboerdery as instrument vir risikobestuur

Die huidige produksie-omgewing word gekenmerk deur hoë insetkoste, lae kommoditeitspryse wat marges onder druk plaas, toenemende onsekerheid oor die klimaat, en groeiende bestuurskompleksiteit. Gesamentlik verhoog hierdie faktore die koste van swak en/of oningeligte besluite. Data-gebaseerde bestuurspraktyke bied 'n hulpmiddel om hierdie risiko's beter te bestuur — nie noodwendig om dit uit te skakel nie, maar om besluite te baseer op feite eerder as intuïsie alleen.

Drie tipes risiko is veral relevant vir droëland graanprodusente. Produksie-risiko – die onsekerheid rondom opbrengste as gevolg van weertoestande, plae of siektes – kan verminder word deur gewasmonitering wat vroeë stres uitwys, sodat ingegryp kan word voordat skade onomkeerbaar is. Finansiële-risiko, wat verband hou met die verhouding tussen insetkoste en opbrengste, word bestuur deur koste-per-eenheid analise per land of bestuursone – sodat daar inligting beskikbaar is oor watter dele van die plaas positiewe opbrengs lewer en watter dele moontlik nie. Klimaat-risiko, wat toenemend relevant word in ʼn omgewing van groter seisoenvariasie. Hierdie risiko word hanteer deur historiese data wat patrone oor jare heen identifiseer – watter areas is meer kwesbaar vir droogte, hael of ryp, hoe verskil die waterhouvermoë of topografie oor ʼn land– sodat medium- en langtermyn bestuur aanpassings doelbewus proaktief gemaak kan word.

In die praktyk beteken dit dat insette gekoppel word aan opbrengspotensiaal eerder as aan gegewe standaard-resepte, dat areas wat onder presteer vroegtydig geïdentifiseer en doelgerig bestuur word, en dat operasionele verliese soos oorvleueling, verkeerde kalibrasie en onnodige wagtyd deur masjiendata opgespoor en verminder word. Dit is belangrik om te besef dat die doel nie noodwendig die vermindering van insette is nie — maar eerder die optimalisering daarvan. Op areas met hoë opbrengspotensiaal kan meer insette regverdig word om die volle potensiaal van die grond te benut.

Die koste van onbenutte tegnologie

Wanneer tegnologie nie ten volle benut word nie, sluip koste in op verskeie vlakke wat nie altyd onmiddellik sigbaar is nie. Op finansiële vlak word kapitaalbesteding in sagteware, lisensies en gespesialiseerde toerusting nie ten volle regverdig nie.

Op operasionele vlak lei verhoogde wagtyd tot hoër brandstofverbruik, verkeerde kalibrasie tot oorvleueling, en ondoeltreffende implement-instellings verminder effektiewe werkure en verhoging in slytasie. Agronomies word swak sones nooit geïdentifiseer nie, word historiese opbrengs patrone nie gebruik om toekomstige besluite in te lig nie, en bly koste-per-eenheid-opbrengs-ontleding per bestuursone nie gedoen nie.

Die mees ingrypende koste is egter op strategiese vlak: toekomstige besluite word nie deur historiese data ondersteun nie, en die vermoë om te leer uit vorige seisoene — wat gewerk het, wat nie gewerk het nie, en waarom dit nie gewerk het nie — word nooit ontwikkel nie. In 'n omgewing waar elke seisoen nuwe uitdagings bied, is hierdie verlies aan institusionele geheue op plaasvlak duurder as enige enkele operasionele oneffektiwiteit.

Waarom tegnologie steeds onderbenut word

Die redes vir onderbenutting is nie noodwendig goed gedokumenteer nie, maar ‘n kombinasie van faktore kan as moontlikhede voorgelê kan word. Die implementering van gevorderde tegnologie vereis dikwels meer as net die installering van ‘n stelsel. Die werklike waarde lê daarin dat produsente die data verstaan, die stelsel met vertroue gebruik en konsekwent in hul daaglikse besluitneming toepas. Tyd is 'n beperkende hulpbron op enige bedrywige plaas, en die aandag wat vereis word om 'n platform of ingewikkelde datastelsel behoorlik op te stel en te onderhou, kompeteer direk met daaglikse boerdery-take. Vrae rondom data-privaatheid, eienaarskap en beheer bly ook ’n belangrike oorweging. Produsente wil weet wie toegang tot hulle plaasdata het, waarvoor dit gebruik word, en of hulle self beheer behou oor met wie dit gedeel word. Hierdie beginsel is belangrik: die produsent behoort eienaarskap van sy data te behou en self te besluit watter diensverskaffers, adviseurs of platforms toegang daartoe kry. Verder kan swak of onbetroubare interkonneksies in sommige landelike gebiede die gebruik van wolk-gebaseerde platforms beperk, ongeag die produsent se bereidwilligheid om dit te gebruik.

'n Bykomende, minder bespreekte rede is die feit dat baie produsente oorweldig voel met die groot volumes data wat moontlik vasgevang kan word. Stelsels wat groot volumes inligting genereer sonder duidelike interpretasie-ondersteuning, laat produsente dikwels met meer vrae as antwoorde. Dit veroorsaak dat sommige van hulle die platforms opsy skuif of nie tot hulle volle potensiaal benut nie..

Dit is belangrik om te besef dat meer nie noodwendig beter is nie – die kwaliteit van die data en die verwerking daarvan speel ‘n baie belangrike rol in die uiteindelike benutting daarvan. Die waarde van data word nie geskep deur die hoeveelheid wat versamel word nie — dit word geskep wanneer 'n produsent kan identifiseer wat relevant is, wat dit beteken, en hoe dit 'n spesifieke besluit kan beïnvloed.

Onafhanklike navorsing en die volgende generasie landboukundiges

‘n Belangrike ontwikkeling in die Suid-Afrikaanse presisieboerdery-landskap is die SU-BFAP Leerstoel in Presisieboerdery, gehuisves binne Stellenbosch Universiteit en BFAP (Buro vir Voedsel- en Landboubeleid). Die Leerstoel, wat befonds word deur onder andere John Deere, bied ‘n onafhanklike platform waar tegnologie en presisieboerdery-praktyke getoets en geëvalueer kan word buite die konteks van kommersiële belange. Dit is ‘n belangrike funksie in ‘n omgewing waar produsente toenemend moet onderskeid tref tussen wat tegnologies moontlik is en wat werklik waarde lewer in die Suid-Afrikaanse boerdery-konteks.

‘n Tweede doelwit van die Leerstoel is onderrig en opleiding. Die integrasie van data en tegnologie in landbou-opleiding verseker dat studente wat tans studeer, die mark betree met ‘n grondige begrip van hoe om data nie net te versamel nie, maar te interpreteer en te gebruik. In ‘n bedryf waar die gaping tussen data-versameling en data-gebruik tans een van die groter uitdagings is, is die bou van hierdie vermoë op ‘n vroeë stadium, ‘n langtermyn belegging in die vooruitgang van die Suid-Afrikaanse landbousektor. 

Van data na verbeterde besluitneming

Die beskikbaarheid van tegnologie op Suid-Afrikaanse plase is nie meer die grootste uitdaging nie. Baie produsente beskik reeds oor stelsels wat opbrengste monitor, operasionele data versamel word en bestuursinligting wat gedokumenteer word. Die uitdaging lê toenemend daarin om hierdie inligting om te skakel na bruikbare insigte en besluitneming.

Die waarde van presisieboerdery word nie bepaal deur die hoeveelheid data wat versamel word nie, maar deur die kwaliteit van die besluite wat daaruit volg. Opbrengskaarte wat nie ontleed word nie, sensors wat data versamel sonder opvolg aksies, of masjien-data wat nooit geëvalueer word nie, verander nie die winsgewendheid van die plaas nie.

Tegnologie sonder interpretasie bly bloot toerusting.

Werklike waarde ontstaan wanneer data gebruik word om vrae te beantwoord: Waarom presteer sekere areas gereeld swakker? Waar ontstaan onnodige uitgawes? Watter bestuurspraktyke lewer die beste resultate onder spesifieke omstandighede? Wanneer hierdie tipe vrae beantwoord word, verander data van 'n historiese rekord na 'n bestuursinstrument.

Die volgende voorbeelde uit plaaslike op-plaas presisieboerdery proewe (OPFE – On-farm Precision Experimentation) – ‘n afsonderlike inisiatief as die DIFM-projek – wys hoe data besluitneming kan beïnvloed – met uiteenlopende, maar leersame uitkomste.

BOER A: Data gee vertroue

Ligging: in KwaZulu-Natal

Gewas: Mielies

Bevinding: Hoër saaidigtheid het konsekwent beter opbrengs opgelewer

Besluit: Gemiddelde saaidigtheid met 18% verhoog Les: Data kan produsente die vertroue gee om veranderinge aan te bring wat andersins as te riskant beskou word.


BOER B: Data voorkom oorhaastige veranderinge

Ligging: Noord-Wes

Gewas: Sojabone

Bevinding: Resultate was wisselvallig oor vier seisoene.

Besluit: Geen groot aanpassing aan saaidigtheid nie.

Les: Data se waarde lê nie net daarin om verandering te motiveer nie, maar ook om te bevestig wanneer verandering nie geregverdig word nie.

Uiteindelik lê die waarde van presisieboerdery nie in die tegnologie self nie, maar in die vermoë om beter besluite te neem — meer akkuraat, meer doelgerig en met groter vertroue.

Die rol van toerusting-verskaffers en ondersteuning

Die verantwoordelikheid om data van insameling na besluitneming te neem, val nie uitsluitlik op die produsent nie. Verskaffers van toerusting speel ‘n sleutelrol in hierdie proses – nie net om stelsels te verkoop nie, maar om te verseker dat produsente die vermoë het om dit sinvol te gebruik. Soms vereis dit meer as tegniese opleiding tydens aflewering. Dit vereis deurlopende ondersteuning, toegang tot platforms wat data op ‘n bruikbare manier vertoon, en ‘n aktiewe vennootskap tussen verskaffer en produsent. Waar ‘n produsent nie sy opbrengsdata verwerk nie, is die vraag nie net hoekom nie – maar ook of die stelsel en die ondersteuningstruktuur rondom dit hom in staat stel om dit te doen.

Die Suid-Afrikaanse graanprodusent staan voor unieke uitdagings – wisselvallige klimaat, hoë insetkoste, lae graanpryse, en die verval van infrastruktuur in landelike gebiede. In hierdie omgewing is beter besluitneming nie ‘n luukse nie, maar ‘n noodsaaklikheid.

Die tegnologie om dit moontlik te maak, is reeds op baie plase beskikbaar. Data word reeds versamel deur trekkers, planters, stropers, sensors en digitale platforms. Die uitdaging is dus nie bloot om meer data te versamel nie, maar om bestaande data beter te interpreteer en doelgerig te gebruik.

Presisieboerdery begin waarde skep wanneer data gebruik word om praktiese vrae te beantwoord: Waar verloor ek geld? Watter areas regverdig meer insette? Waar moet ek eerder versigtig wees? Watter besluite kan ek met groter vertroue neem omdat dit deur feite ondersteun word?

Uiteindelik lê die waarde van presisieboerdery nie in die tegnologie self nie, maar in die vermoë om beter besluite te neem — meer akkuraat, meer doelgerig en met groter vertroue.

Tegnologie sonder interpretasie bly bloot toerusting. Data wat gebruik word, word bestuur.